Sondagoggend 9 September 2018

Op ‘n yskoue oggend was daar ‘n gevoel van feestelikheid in die lug voor die aanvang van die 1 gesamentlike diens om die gemeente se 50ste bestaansjaar te herdenk! Die fontein in die splinternuwe Jubileum-tuin het vriendelik gekabbel ten spyte daarvan dat hy kort vantevore nog ge-ys was!

Die diens het afgeskop met ds. Hennie Lombard wat in die styl van 50 jaar gelede, met ‘n swart toga die votum of seengroet uitgespreek het en namens Jesus, Sy gemeente in Sy huis verwelkom het. Daarna het die gemeente ‘n keurspel van ouer Afrikaanse Psalms en Gesange saamgesing. ‘n Video is vertoon wat die 50 jaar van ons gemeente vertoon het. Pieter-Nel het in die stemming van die geleentheid, gepreek oor wat alles in die 50 jaar gebeur het op geestelike sowel as fisiese vlak en sy opgewondenheid uitgespreek oor ons pad vir die toekoms! ‘n Groepfoto is in die kerk geneem en daarna is ‘n kort seremonie buite in die nuwe gedenktuin, tesame met die kinders gehou. HIer is simbolies ‘n klomp balonne losgelaat as teken van die Heilige Gees wat in ons teenwoordig is. Heerlike kolwyntjies is na afloop van die diens in die saal bedien vir almal wat teenwoordig was! Dit het soos ‘n bynes geklink met al die stemme van mense wat heerlik saam gekuier en koek geeet en koffie of tee gedrink het. Die saal het feestelik gelyk met balonne versier en die goue tema om 50-jaar te simboliseer, het orals uitgestaan.

Veels geluk Veranderde Lewens gemeente met 50 goue jare!

Leave your comment